Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 04 OKTOBER 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

RUIMTEWEEKOPSTELKOMPETISIE VIR LEERLINGE

GROOT BEGIN MET ZS10WCS

GOEIE REAKSIE OP DIE SARL SE KONSTRUKSIEKURSUS

SUMBANDILASAT MAAK GOEIE VORDERING

SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE ZS3SKA

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

RUIMTEWEEKOPSTELKOMPETISIE VIR LEERLINGE

Om ruimteweek asook die suksesvolle lansering van SumbandilaSat te vier, skryf SA AMSAT en die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust ’n opstelkompetisie uit vir leerlinge tans in grade 8 tot 12 waarin verskeie pryse, insluitende ’n Acer Aspire One notaboek, gewen kan word.
Die opstel moet uit tussen 1 000 en 1 5000 woorde beslaan oor die onderwerp “Hoe sal Suid-Afrika uit ruimteprojekte voordeel trek”.
Leerlinge word aangemoedig om op die internet navorsing te doen aangaande ruimteprojekte en hoe ander nasies daaruit voordeel geput het en dan in hul eie woorde beskryf hoe Suid-Afrika voordeel kan trek uit sy eie toetrede tot die ruimte-arena.
Die sluitingsdatum is 30 November 2009. Volle besonderhede kan verkry word van beide www.amsatsa.org.za en www.amateuradio.org.za.

GROOT BEGIN MET ZS10WCS

Die Boland Amateurradioklub het die spesiale geleentheidstasie met roepsein ZS10WCS met groot geesdrif van stapel gestuur. Gedurende September het hulle 2 639 kontakte in meer as 100 lande opgestapel en het dus ’n baie hoë teiken gestel vir die Oakdale Amateurradioklub wat die spesiale geleentheidstasie gedurende Oktober sal bedryf.
Die QSL-kaarte sal gedurende volgende week aan die Boland Amateurradioklub afgelewer word waarna hulle deur die buro uitgestuur sal word.
Baie dankie aan die volgende radioamateurs wat die wêreldbeker spesiale geleentheidstasie bedryf het: ZS1OLI, ZS1EL, ZS1DUG, ZS1RX, ZS1REC, en ZS1L.
Die modusontleding is as volg: ESB 1 552 kontakte, GG 1 050 kontakte en PSK31 37 kontakte. Besoek www.sarl.org.za vir meer inligting.
Uitstekend gedoen Boland!

GOEIE REAKSIE OP DIE SARL SE KONSTRUKSIEKURSUS

Daar was goeie reaksie in opvolging van die aankondiging van die tuisboukursus in verlede week se SARLNUUS, veral vir die kursus op 21 November in Gauteng. Daar is slegs nog 8 sitplekke beskikbaar vir hierdie kursus by die NARS.
RS Suid-Afrika borg 5 temperatuurbeheerde soldeerstasies wat beskikbaar sal wees vir praktiese ondervinding met die soldeer van oppervlakgemonteerde komponente.
Besoek die SARL se webwerf vir meer inligting aangaande die kursus. Inligting oor die aantal beskikbare sitplekke sowel as die lys van kursusgangers sal gereeld opgedateer word.

SUMBANDILASAT MAAK GOEIE VORDERING

Die grondbeheerstasie aan die Universiteit van Stellenbosch maak goeie vordering met die aktivering van die verskeie stelsels aan boord van die satelliet. Die jongste verslag dui daarop dat, na die oplaai van verskeie koppelings, die aanboordrekenaar meer betroubaar werk. Die span het aantal verbeterings aan die vlugkodes geïdentifiseer wat binnekort opgelaai sal word. Opdaterings verskyn gereeld op www.amsatsa.org.za. Die publikasie van die Kepleriese elemente verskyn ook sedert verlede week in die weeklikse opdaterings van AMSAT NA.

WIA VIER VOLGENDE JAAR SY EEUFEES

Die “Wireless Institute of Australia” word volgende jaar 100 jaar oud, dit beteken dat dit die oudste nasionale radiovereniging is. Die WIA se President Michael Owen, VK3KI, sê hy wil hê dat die wêreldwye amateurradiogemeenskap aan die vieringe deelneem.
In die Oktoberuitgawe van WIA se amateuradiotydskrif het hy ’n program aangekondig wat ’n spesiale roepsein, VK100WIA, insluit en wat volgende jaar gedurende Meimaand deur die WIA gebruik sal word. Daarna sal dit vir die volgende 5 maande deur verskeie geaffilieerde klubs in Australië gebruik word. ’n Herdenkings-QSL-kaart sal vir kontakte met VK100WIA tussen Mei en Oktober volgende jaar uitgereik word.
’n Beperkte uitgawe bedryfstoekenning, genoemd die “WIA Centenary Award” sal ook beskikbaar wees waarvoor twee kontakte ooreenkomstig sy reëls vereis word.
Aktiwiteite sal in Mei 2010 volgens ’n program uitgevoer word rondom die WIA se jaarlikse vergadering in Canberra, die land se hoofstad. Radioklubs beplan ook aktiwiteite ten einde die eeufeesvieringe van georganiseerde amateurradio in Australië te bevorder.
Dit het alles in 1910 begin tydens ’n vergadering van radiopioniers in Sydney ten einde hulle belange en regte te beskerm teen wat hulle as growwe behandeling deur die outoriteite beskou het en hoë lisensiegelde. Die Wireless Institute of Australia het sedertdien voortgegaan om die voorregte te beskerm en om amateurradio te bevorder.
Besonderhede van die eeufeesprogram kan op www.wia.org.au gevind word.

SPESIALE GELEENTHEIDSTASIE ZS3SKA

Suid Afrika is een van twee lande wat meeding om die kontrak vir die bou van die grootste radioteleskoop in die Suidelike halfrond. Die terrein wat in Suid Afrika aangewys is, is in die Noord-Kaap tussen Calvinia, Brandvlei en Williston. Die projek gaan bekend staan as SKA (Square Kilometer Array). Daar is reeds begin met 'n kleiner weergawe van 'n radioteleskoop wat
bekend staan as Meerkat.
Om hierdie aangeleentheid onder radioamateurs, nasionaal en internasionaal, bekend te maak, gaan lede van die Boland en Noord-Kaap radioklubs gedurende die naweek van 23 tot 25 Oktober 'n amateurradiostasie op die terrein by SKA oprig. Die roepsein ZS3SKA is reeds vir hierdie doel gelisensieer. Alle HF-bande gaan gebruik word.
'n Spesiale QSL-kaart gaan uitgereik word aan alle stasies wat hulle kaarte via die buro of direk aan Posbus 273, Strand, 7139, Suid Afrika, stuur.
Meer inligting oor operateurs, toerusting en frekwensies sal mettertyd bekend gemaak word.
Vir meer inligting oor SKA besoek www.ska.ac.za

KOMPETISIENUUS

SARL 40 Meter Mobiele Kompetisie:
Die verkeerde uitslae is verlede week gepubliseer. Die fout word betreur. Slegs 6 logs is ontvang vir die 2009 kompetisie.
Die korrekte uitslae is as volg:-
1ste Gerhard Coetzee, ZS3TG, 488 punte;
2de John Kramer, ZS5J, 231 punte;
3de Mitchel Mynhaardt, ZS6YH, 168 punte;
4de Romeo Nardini, ZS6ARQ, 149 punte;
5de Jan Botha, ZS4JAN, 136 punte;
6de Geoff Levey, ZS6GRL, 130 punte.

2008 CQ WW DX Foon- en GG-kompetisies:
In die foonkompetisie het die Bloemfontein Weermag ARK, ZS9X, deelgeneem in die Multi-Operateur, 2 Sender klas en 8,2 miljoen punte behaal wat hulle 3de in Afrika en 9de in die wêreld plaas.
In die GG-kompetisie het Bernie van der Walt, ZS4TX, in die alle bande, hoëkrag klas deelgeneem en 5,7 miljoen punte behaal wat hom 3de in Afrika plaas.

KLUBNUUS

Op die onlangse AJV van die Highveld Amateurradioklub, is die volgende lede tot die uitvoerende komitee verkies/herkies vir die jaar 2009/2010:
Voorsitter: Frank van Wensveen, ZS6TMV;
Ondervoorsitter: Frank Mercier, ZS6MER;
Sekretaris/tesourier: Berridge Emmett, ZS6BFL;
Assistentsekretaris: Marianne Treyvellan, ZR6JMT;
Shacknews: Berridge Emmett, ZS6BFL, Marianne Treyvellan, ZR6JMT, en Harry Lautenbach, ZS6LT;
Webwerf: Yvonne van Dijk, ZR6TBL, en Marianne Treyvellan, ZR6JMT;
Herhalers/pakketradio en tegnies: Ton Van Dijk, ZS6ANA.
PIO: Berridge Emmett, ZS6BFL
Baie dankie aan die uittredende komiteelede en sterkte aan die nuutsaamgestelde komitee vir ’n suksesvolle dienstermyn.

Die Overberg Amateurradioklub sal ’n algemene klubvergadering beginnende om 10:00 op 10 Oktober by die Hermanus Magnetiese Observatorium hou. Dit val saam met die einde van die HMO se “ruimteweek”. Alle radioamateurs word uitgenooi en indien iemand ’n demonstrasie kan aanbied oor hoe om deur ’n satelliet te werk sal die persoon meer as welkom wees. Die gewoonlike bring-en-braai sal na die vergadering plaasvind.

Die Buis-QSO-party van die Antieke Radiovereniging sal op 10 en 11 Oktober 2009 plaasvind.
Die AM-gedeelte sal op Saterdag 10 Oktober tussen 15:00 en 19:00 SAT plaasvind en op Sondag 11 Oktober sal die ESB-gedeelte ook tussen 15:00 en 19:00 SAT plaasvind.
Frekwensies sal wees 3 600 tot 3 700 en 7 070 tot 7 100 en 7 130 tot 7 200 kHz. (Neem kennis van die frekwensies in die 40 m-band).
Roepseine ’n RS-verslag met opeenvolgende serienommers beginnende by 001 en die tipe radio-ontvanger word uitgeruil.
Puntetellings word as volg bereken: 3 punte vir buisstelle alleen, 2 punte vir hibriede stelle en 1 punt vir soliede staat stelle.
Kompetisielogstate moet aan die AWA gestuur word d.m.v. e-pos, faks of slakkepos vir aandag Andy, ZS6ADY, in die aanbevole formaat soos vir SARL-kompetisielogs.
Sertifikate sal uitgereik word aan die bekleërs van die eerste drie plekke in die onderskeie kategorieë.

Die Antieke Radiovereniging sal ook op Saterdag 17 Oktober vanaf 09:00 ’n ope dag by die Transvaal Aviation Centre op die Randse lughawe aanbied en sy AJV sal ook dan plaasvind.
Daar sal ook ’n uitstalling van antieke radio’s wees tesame met ’n snuffelmark, kontantkroeg, restaurant ens.
Bring die familie en geniet die dag saam met hulle.
Vir enige navrae kontak Andy, ZS6ADY, by 082 448 4368.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds baie laag is. Daar was egter amptelike sonvlekke vir meer as 10 dae gedurende die laaste 2 weke.
20 en 40 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Gedurende die oggende is daar moontlike kanse om kontakte met Australië te maak. Kontakte met Nieu-Zeeland gaan uitdagend wees. Daar ook 'n moontlikheid van 20 en 15 m-kontakte met Brasilië gedurende die oggende, laatmiddae en vroegaande. Gedurende die middae is daar goeie kanse vir 15 m-kontakte met die VSA.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dae op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende een laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dae goeie resultate oor die langer afstande lewer.
Saans is 80 m die beste keuse.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE

6 Oktober - Logstate vir Erfenisdagnaelloop moet in wees na riaanzs4pr@gmail.com.
7 Oktober – kommentaar op konsep frekwensiespektrumbeleid moet in wees;
10 Oktober – Vergadering van Overberg ARK om 10:00 by die HMO;
10 Oktober – AWA se AM-gedeelte van sy Buis-QSO-party tussen 15:00 en 19:00;
11 Oktober - AWA se ESB-gedeelte van sy Buis-QSO-party tussen 15:00 en 19:00;
16 Oktober – Logstate vir die tweede been van die SARL se 80 meter QSO-geselligheid moet in wees;
17 Oktober – AWA se ope dag vanaf 09:00 en AJV by die Randse lughawe;
23-25 Oktober – Spesiale stasie ZS3SKA op die lug;
21 November – Tuiskonstruksiekursus, Gauteng by die NARS.

Neem asb. kennis dat die telefoonnommer vir die SARL-kantoor, in verlede week se bulletin genoem, verkeerd is. Die korrekte nommer is 011 675 2393.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels alleenlik op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE opgestel is.
Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003